Raam jou foto reg
Binne byna elke foto skuil daar ’n beter foto. Jy moet hom net raaksien en ’n raampie om hom sit. Dis so maklik soos een, twee, drie…
Bekyk die groter prentjie
Kyk na Arlene Pienaar se pragtige foto [ Foto 1] van ’n Kgalagadi-leeu: Daardie priemende kyk, die goue gras en die sagte lig… maar die boom links op die agtergrond trek jou aandag effens af. Die leeu is ook karplaks in die middel van die foto.
Bemeester die beginsel van derdes
Die beginsel van derdes beteken eintlik net dat jy nie die ding wat jy afneem, presies in die middel van die foto moet plaas nie. Korrel met jou kamera sodat dit ’n aks na links, regs, bo of onder is.
Verbeel jou daar loop twee horisontale en twee vertikale lyne [ Foto 2] deur die prentjie wat die beeld netjies in derdes verdeel.
Plaas nou die fokuspunt – daardie plekkie op die foto wat eerste die kyker se oog gaan tref – na een van die punte waar hierdie lyne mekaar kruis.
Kies 'n fokuspunt – en skuif dit
Op dierefoto’s is die fokuspunt gewoonlik die gesig – en spesifiek die oë. As jy nou die leeu se oë na bo en links skuif [ Foto 3], gebeur twee dinge: Daardie lastige boom is weg en die leeu lyk meer prominent.
Hy kyk nou as ’t ware in die foto in en jy kan sy oë oor die landskap volg.
En jy wonder waarna hy so stip kyk. (As jy wil slim klink, sê die foto het nou “visuele spanning”.)
Siedaar! ’n Foto met meer trefkrag.
Terug na fotografie | Terug na bo

















Kommentaar